Skip to Content

Psalms Hoofstuk 75

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." 'n Psalm van Asaf. 'n Lied. 2 Ons loof U, o God, ons loof, en naby is u Naam; hulle vertel u wonders. 3 As Ek die regte tydstip aangryp, oordeel Ék regverdig. 4 Al wankel die aarde en al sy bewoners- Ék het sy pilare vasgestel. Sela. 5 Ek sê tot die onsinniges: Wees nie onsinnig nie! en tot die goddelose: Verhef die horing nie! 6 Verhef julle horing nie daarbo en spreek nie met trots uitgerekte nek nie. 7 Want nie van die opgang of van die ondergang, ook nie van die woestyn van berghoogtes nie.... 8 maar God is regter: Hy verneder die een en verhef die ander. 9 Want in die hand van die HERE is 'n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink. 10 Maar ék sal vir ewig verkondig- ek wil psalmsing tot eer van die God van Jakob. 11 En ek sal al die horings van die goddelose mense stukkend breek; die horings van die regverdige sal verhef word.