Skip to Content

Psalms Hoofstuk 2

1 Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: 3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! 4 Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. 5 Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: 6 Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. 7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. 8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. 9 U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot. 10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. 12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!